Germany WEATHER

Tuesday, 3 October 2023

Afrikaans

 

Afrikaans is 'n Nederfrankiese taal wat 'n lid is van die Germaanse taalgroep. Afrikaans is een van die jongste erkende tale. Dit is op 8 Mei 1925 as 'n amptelike taal erken, en is tans die derde jongste Germaanse taal wat amptelike status geniet, naas Faroërs wat in 1948 grondwetlik erken is en Luxemburgs (of Lëtzebuergesch) wat hierdie status in 1984 gekry het.

Afrikaans is tans een van die elf amptelike tale van Suid-Afrika en daarnaas ook 'n belangrike taal van Namibië. Dit word deur ongeveer 6,59 miljoen mense in Suid-Afrika (of 13,5 persent van die totale bevolking) en in elf persent van alle Namibiese huishoudings as eerste taal gebruik. Afrikaans het uit 17de eeuse Nederlands ontwikkel en meer as 95 persent van sy woordeskat is van Nederlandse oorsprong. 'n Klein aantal woorde is ontleen uit tale soos Maleis, Portugees, Frans, Duits, Engels en ander Afrikatale. Afrikaans het op sy beurt weer 'n groot invloed uitgeoefen op Suid-Afrikaanse Engels en plaaslike swart tale en 'n aantal Afrikaanse woorde is in baie ander tale opgeneem.

Sowat een miljoen van Suid-Afrika se 6,44 miljoen Afrikaanstaliges is tweetalige moedertaalsprekers van Afrikaans en Engels. Daar is groot groepe Afrikaanstaliges in lande soos Namibiê (146 000), die Vereenigde Koningkryk (ongeveer 100 000) Nieu Zeeland (21 000 in 2006), Botseana (20 000), die Verenigde State (19 000), Australië (13 000), en Kanada(2 400 volgens die sensus van 1974; die aantal Suid-Afrikaanse immigrante beloop tans egter meer as 60 000). 

Afrikaans is 'n Indo-Europese Taal wat aan die Wes-Germaanse tak van die Germaanse Tale behoort. Afrikaans behoort saam met Nederlands aan die Nederfrankiese taalgroep wat van OudNederlands. Nederfrankiese verskeidenhede word in Europa in Nederland, die noorde van België, Frans-Vlaandere in Frankryk en die Duitse gebied langs die Ryn tussen Keulen en die grens tussen Duitsland en Nederland gepraat. Buite Europa word Nederfrankiese verskeidenhede in Suid-Afrika, Namibië, Suriname en die Nederlandse eilande in die Karibiese See gepraat. Die Nederfrankiese verskeidenhede word saam met Nedersaksies onder Nederduits gegroepeer. Daar het 'n skeiding gekom tussen Nederduits en Hoogduits vanweë die Hoogduitse klankverskuiwing. Teen die middel van die 17de eeu het Europeërs hulle gevestig aan die Kaap. Op taalgebied sou hier 'n proses afspeel wat in alle Nuwe Wêreldlande afgespeel het, waar mense van verskillende tale en kulture vermeng het. Nuwe omgangsvariëteite sou ontstaan. Aan die Kaap sou ook taalontwikkelinge wat latent in Nederlands aanwesig was tot ontplooiing kom), (soos die sinkopee van die intervokaliese -d- en -g- (byvoorbeeld: sadel > saal en regen > reën).

By die ontwikkeling van sommige Afrikaans-Hollandse omgangsvariëteite was die invloed van vreemde tale gering, maar ander variëteite het 'n kreoliseringsproses ondergaan, byvoorbeeld Hottentot-Hollands en Slawe-Hollands. Alle vreemdelinge aan die Kaap het Nederlands egter eie probeer maak. Veral ander Europeërs is binne 'n relatief kort tydperk geassimileer. Die nuwe omgangsvariëteite word wel gekenmerk deur 'n eenvoudiger taalkode. Hierdie proses was egter nie alleen tot die Kaap beperk nie. In Brasilië sou in dieselfde tyd 'n omgangsvariëteit ontstaan het wat grammatikaal eenvoudiger is as Europese Portugees. Ook in Quebec sou 'n omgangsvariëteit ontstaan wat grammatikaal eenvoudiger is as Europese Frans. 

As gevolg van die Europese volksverhuising,  verhuis Friese, Angele, Sakse en Jutte van die Europese vasteland na die Britse eilande waar hierdie Germaanse immigrante vermeng met die Britse Kette. Tussen 800 en 1100 sou ook Wikings of Vikinge hulle vestig op die Britse Eilande. Die nuwe Germaanse taal wat hier ontwikkel het en later as Engels (afkomstig van Angele) bekend sou staan, is ook grammatikaal eenvoudiger as die Germaanse tale van die Europese vasteland. As gevolg van die grootskaalse taal- en kultuurvermenging in Amerika, sou dáár ook nuwe omgangsvariëteite ontstaan het wat grammatikaal eenvoudiger is as Standaardengels. Die bekendste voorbeeld hiervan is Negerengels.

Die Nederlandse omgansvariëteite aan die Kaap tussen 1652 en omstreeks 1800 is selde op skrif gesit, wat beteken dat ons vandag nie presies weet hoe hierdie variëteite gelyk het nie. Teen omstreeks 1800 is die volgende omgangsvariëteite aan die Kaap gepraat, naamlik:

1) Suiwer Nederlands;
2) Burger Afrikaans of Kaaps-Hollands, soos gebruik deur die aristokrasie;
3) Boere-Afrikaans, veral op die platteland;
4) Hottentot-Hollands (of Hottentot-Afrikaans);
5) Slawe-Afrikaans;
6) Vreemdeling-Afrikaans

No comments:

Post a Comment